'N MASSIEWE PENSKETS VAN MY BROER...
Oorspronklike foto waarvan af ek gewerk het
Hoekom
hy??
Van kleins af het my broer 'n
geweldige impak op my. Soos 'n ouer broer maar gewoonlik is, is Pieter nog
altyd beskermend teenoor my, maar ons stamp gedurig koppe! Pieter dink logies
oor alles, terwyl ek gewoonlik impulsief sal optree. Sy verantwoordelikheid,
logika en denkwyse beïnvloed my egter baie. Deur die jare het my persoonlikheid
by syne aangepas en het hy dus my persoonlikheud help vorm.
Pieter is twee
jaar ouer as ek en beleef dus fases van die lewe 'n rapsie voor my. Wanneer hy 'n fase van sy lewe afsluit (soos laerskool, Hoërskool ens.) en met 'n nuwe een begin, berei hy my
voor. Sy voorbeeld en ervaring gee my kans om te sien hoe
dit gaan wees.
Hy het veral hierdie jaar 'n groot impak op my lewe aangesien hy universiteit en koshuis toe
is. Wat 'n realiteitsskok! Dit laat my besef dat ons lewens
aanbeweeg en dat niks ooit dieselfde bly nie. Ek moet vrede maak met
die feit dat my enigste broer nie meer daagliks in die huis gaan 'rondlê' nie en
dat ek in die week 'n alleenkind is. Wat 'n aanpassing! Al sukkel ek soms om by hierdie nuwe fase aan te pas, leer ek iets van myself hieruit
- ek is nogal bang vir verandering. Dit laat my ook dink aan die toekoms en
wat dit vir my en my gesin inhou - Oor twee jaar gaan ek (hopelik) ook
universiteit toe en dan is alles weer van vooraf vreemd.
Pieter het 'n baie
skerp sin vir humor en ek deel 'n waardering daarvoor. Ons huis is gedurig
gevul met grappe wat lei tot 'n vrolike atmosfeer.
Sy kwaliteite:
Pieter se
natuurlike omgewing is voor sy rekenaar waar hy programme skryf ens. Hy is sterk
linkerbrein georiënteerd en redeneer dus baie logies, wiskundig, wetenskaplik ens.
Hy het egter ook 'n kreatiewe en sagte kant aan hom.
Hoe het ek hom uitgebeeld en why?
Medium: Pen gekombineer met waterverf
Ek het sy gesig
met pen geteken om 'n koppeling te maak met sy wiskundige en wetenskaplike
(presiese) persoonlikheid. In die agtergrond het ek van sy ou
wetenskap, wiskunde en IT somme aan sy linkerkant "gestensel" om sy sterk
linkerbrein te verteenwoordig. Ek het spatsels en lopende druppels van
kleurvolle waterverf, asook fineliner patrone aan sy regterkant aangewend om die sagter, kreatiewe aspek van sy geaardheid uit te beeld (regterbrein).
Kleur: Die swart en wit van die pen simboliseer sy siening dat iets reg of
verkeerd is (en hy is mos altyd reg...) Die waterverf spatsels is skakerings
van blou, groen en grys - kleure wat ek met hom assosieer.
Komposisie: 'n Nabyskoot van sy profiel - sy gesigsuitdrukking wys sy
vriendelikheid en grappigheid.
Die eindproduk
No comments:
Post a Comment